Stephanus Petrus le Roux
Stephanus Petrus le Roux, ook wel S.P. le Roux, (* 4 Maart 1891 op die plaas Doornkraal, De Rust in die Oudtshoorn-distrik, † 25 Januarie 1974 in Koffiefontein), was 'n Suid-Afrikaanse politikus en Minister van Landbou.[1]
- Ouers: Stephanus Daniel Petrus le Roux en Cathrina Jacomina Maria Olivier.
- Getroud: 21 Junie 1921 in die huwelik getree met Elizabeth Helena Scholtz, dogter van mnr en mev J Hofmeyer Scholtz van Bloemfontein.
- Kinders: seun – die bekende skrywer Etienne Leroux.
- Liefhebberye: As grootste liefde geniet hy die boerdery, veral veeboerdery. Volstruise en ook opregte Friesbeeste en skape kry veral sy aandag. Hy was die eerste persoon in Suid-Afrika om Gorriedale-skape in te voer.
Stephanus Petrus le Roux | |
S.P. le Roux in 1953, die jaar toe hy al kandidaat van die Nasionale Party was wat onbestrede tot die Volksraad verkies is. | |
Minister van Landbou
| |
Ampstermyn 1948 – 1958 | |
Eerste minister | D.F. Malan J.G. Strijdom |
---|---|
Voorafgegaan deur | Koos Strauss |
Opgevolg deur | P.K. le Roux |
Minister van Bosbou
| |
Ampstermyn 1948 – 1949 | |
Eerste minister | D.F. Malan |
Voorafgegaan deur | Koos Strauss |
Opgevolg deur | J.G. Strijdom |
Lid van die Vergadering vir die distrik van Oudtshoorn
| |
Ampstermyn 1923 – 1958 | |
Eerste minister | Jan Smuts Barry Hertzog Jan Smuts D.F. Malan J.G. Strijdom |
Voorafgegaan deur | J.A. Raubenheimer |
Persoonlike besonderhede
| |
Gebore | 4 Maart 1891 Oudtshoorn, Kaapkolonie |
Sterf | 25 Januarie 1974 Koffiefontein, Vrystaat, Suid-Afrika |
Politieke party | Nasionale Party |
Alma mater | Universiteit Stellenbosch Universiteit van die Vrystaat |
Jong lewe
wysigLe Roux het sy eerste skoolopleiding by 'n klein plaasskooltjie begin. Daarna gaan hy skool op De Rust, George, Graaff-Reinet en Oudtshoorn. Hy studeer daarna by Victoria-kollege (tans die Universiteit van Stellenbosch) waar hy die B.A.-graad behaal in 1913. Daarna boer hy op De Rust. In 1915 kry hy 'n beurs om regte te studeer aan Rhodes-kollege, Grahamstad.
Hy word dieselfde jaar aangestel as registrateur van regter McGregor en vertrek saam met hom na Bloemfontein. Hier studeer hy regte aan Grey-kollege en in 1918 lê hy die LL.B eksamen af. Na toelating tot die Kaapse Balie begin hy egter naby De Rust te boer.
Boerderybelange
wysigVanaf 1919 beywer hy hom vir die bevordering van boereorganisasies. Hy was verantwoordelik vir die organisasie van die Boere Saamwerk Bpk. in die Suidwestelike distrikte. Met die ineenstorting van die ekonomiese grondslag van die Oudtshoorn distrik het hy hom gedurig beywer om toestande te skep sodat die bestaande volstruisvere- en tabakkoöperasies op gesonde grondslag meeding, en boere aan te moedig om so veel moontlik gemengde boerdery te beoefen. Sy eerste pogings om volstruis- en tabakboere te organiseer het misluk. Later egter, na sy verkiesing tot die Unie-Volksraad, het hy daarin geslaag om beter leningsfasiliteite vir koöperasies met beperkte verantwoordelikhede te beding, asook verpligte bepalings in verband met tabak en volstruisvere. Hy slaag daarin om tydens 'n parlementêre reses die twee koöperasies – die Kango Koöperatiewe Tabakmaatskappy Bpk. en die Volstruisvere Koöperasie van Suid-Afrika Bpk. – op te rig en word tot voorsitter van die direksie van beide maatskappye gekies. Hy verteenwoordig die Kango Tabakkoöperasie by die Sentrale Tabakkoöperasie.
Politieke lewe
wysigHy het reeds as student in die politiek belang gestel en het ook dadelik kant gekies vir Genl. J.B.M. Hertzog in die politieke krisis in 1912. In 1922 is hy die aspirantkandidaat vir die Provinsiale Raad vir die kiesafdeling Oudtshoorn, maar staan terug vir mnr. J.E. Potgieter. In 1923 word hy met 'n groot meerderheid benoem as N.P. kandidaat vir die parlementêre tussenverkiesing te Oudtshoorn, weens die afsterwe van dr. Raubenheimer, en word met 'n oorweldigende meerderheid verkies. Dit was hierdie nederlaag, spoedig gevolg deur 'n ander by Wakkerstroom, wat die Suid-Afrikaanse Party-regering in 1924 genoop het om te bedank. By die algemene verkiesings in 1924 en 1929 word hy weer met groot meerderhede tot lid vir Oudtshoorn verkies. Hy verteenwoordig Oudtshoorn in die Unie-Volksraad onafgebroke vir 35 jaar. As parlementslid dien hy eers op die Gekose Komitee vir Spoorweë en toe in die Openbare Rekeningekomitee. Hy was ook lid gewees van die Gekose Komitee oor die Yster en Staal-wet asook die Landboukredietwet en daarna van die Naturellewette. Hy was verantwoordelik vir aanname deur die Parlement vir 'n voorstel om volstruisvere soortgelyk as tabak onder die verpligte bepalings van die Gewysigde Koöperasiewewet te bring. In die sitting van 1931 word 'n wetsontwerp ingedien vir 'n heffing op tabak ten einde uitvoer te subsidieer, wat egter misluk. In 1926 as afgevaardigde van die Unieparlement neem hy deel aan 'n uitgebreide reistog van die Ryksparlementêre Vereniging deur Australië.
Met die koalisie en die uiteindelike samesmelting tussen die Nasionale Party en die Suid-Afrikaanse Party, ondersteun hy dr. D.F. Malan en was een van die 19 "gesuiwerde" Nasionaliste in 1934. Soos die party groei, word hy die skaduminister van landbou en is hy uiteindelik die portefeulje toegeken ná die 1948-verkiesing. Hy behou hierdie portefeulje tot 1958, toe hy uittree weens gesondheidsredes.
Hierna lei hy 'n stil lewe op sy plaas Wagenmakersdrift naby Koffiefontein. In dieselfde jaar ken die Universiteit van die Vrystaat 'n eredoktorsgraad in landboukunde aan hom toe.
Verwysings
wysig- ↑ "Staatskoerant 26 Oktober 1956" (PDF). 26 Oktober 1956. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 13 November 2023. Besoek op 13 November 2023.