(Translated by https://www.hiragana.jp/)
Molukke - Wikipedia Gaan na inhoud

Molukke

Koördinate: 2°S 128°O / 2°S 128°O / -2; 128
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Molukke
Inheemse naam: Kepulauan Maluku
Bynaam: Spesery-eilande
Topografiese kaart van die Molukke
Topografiese kaart van die Molukke
Geografie
Ligging Suidoos-Asië, Oseanië
Koördinate 2°S 128°O / 2°S 128°O / -2; 128
Argipel Maleise argipel
Totale eilande ~1000
Hoofeilande Halmahera, Seram, Buru, Ambon, Ternate, Tidore, Aru-eilande, Kai-eilande
Oppervlakte 74 505
Hoogste punt Berg Binaiya 3 027 m
Administrasie
Vlag van Indonesië Indonesië
Provinsies Maluku
Noord-Maluku

Grootste stad Ambon

Demografie
Bevolking 1 895 000

Bevolkingsgroepe Alfur, Nuaulu, Manusela, Bugis

Die Molukke (Indonesies: Kepulauan Maluku) is 'n argipel in Suidoos-Asië en Melanesië wat vanaf Sulawesi in die weste tot Nieu-Guinee in die ooste en die Filippyne in die noorde tot die Klein-Soenda-eilande in die suidweste asook die kontinent Australië in die suidooste langs die ewenaar streek. Die argipel bestaan uit duisende eilande en word deur 'n tropiese klimaat gekenmerk. Saam met die Filippynse eilande en die Soenda-eilande vorm die Molukke die Maleise argipel.

Geografiese kaart van die Maleise argipel, bestaande uit die Groot Soenda-eilande (rooi), Klein-Soenda-eilande (groen), Molukke (blou) en Filippyne (magenta)
Politieke kaart van die Molukke met die Indonesiese provinsies Maluku en Noord-Maluku (Maluku Utara)
'n Kaart van die Molukke deur Willem Blaeu in 1630

Die naam "Molukke" is glo afgelei van 'n term wat Arabiese handelaars aan dié streek gegee het, Jazirat al-Muluk ("die eiland van die konings"), van die woord malik (meervoud: moluk).[1][2] Aangesien die naam egter genoem word in 'n 14de-eeuse Majapahit-eulogie, Nagarakretagama, wat die koms van Islam in die laat vyftiende eeu in die Molukke voorspel het, beweer ander bronne dat die naam uit 'n plaaslike taal afkomstig is en "die kop van 'n bul" of die "kop van iets groots" beteken.[3]

Die Molukke word begrens deur die Bandasee in die suidweste, die Molukkesee in die noordweste, die Filippynse See in die noordooste, die Halmahera- en Seramseë in die ooste, die Arafurasee in die suidooste en die Timorsee in die suide.

Die Molukke staan ook bekend as die Spesery-eilande, omdat daar verskeie speserye soos naeltjies, neutmuskaat en syzygium gevind is, wat in Europa baie gewild en duur was (vandaar uitdrukkings soos "peperduur"). Die Portugese, Nederlandse, Britse en Spaanse ryke het mekaar beveg vir beheer oor die Spesery-eilande wat maklik deur die Molukkesee bereik kan word.

Die Molukke behoort aan die eilandnasie Indonesië en is opgedeel in die provinsies Maluku en Noord-Maluku (Maluku Utara). Op die meeste Molukke-eilande word hoofsaaklik Maleis-Polinesiese tale gepraat; net Halmahera beskik oor 'n aansienlike bevolking wat Papoeastale besig. Die belangrikste godsdienste is Islam en Christendom.

Geografie

[wysig | wysig bron]

Die argipel is verdeel in twee provinsies:

  • Maluku
  • Noord-Maluku (Maluku Utara).

Die Molukke bestaan uit die volgende eilande:

  • in die noorde (provinsie Noord-Maluku): Halmahera, Ternate, Tidore en die Batjaneilande (waarvan Batjan die grootste is);
  • in die middel (provinsie Noord-Maluku): die Obi- en Soela-eilande;
  • in die suide (provinsie Maluku): Seram, Boeroe, Ambon en die Lease-eilande;
  • in die suide van die Bandasee (provinsie Maluku): Kei-, Aru-, Tanimbar-, Banda-eilande, Babar- en Suidwestereilande.

Die Molukke bestaan uit sowat 'n duisend eilande waarvan meer as die helfte onbewoon is. Op die bewoonde eilande bly verskillende volke met baie uiteenlopende tradisies en godsdienste.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) Geertz, Clifford (2009). After the Fact. Harvard University Press. p. 174.
  2. (en) Ricklefs, M.C. (1991). A History of Modern Indonesia Since c.1300, second edition. Londen: MacMillan. p. 24. ISBN 0-333-57689-6.
  3. (en) Andaya, Leonard Y. (1993). The World of Maluku: Eastern Indonesia in the Early Modern Period. Honolulu: Univ. of Hawaii Press. ISBN 0-8248-1490-8.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]