(Translated by https://www.hiragana.jp/)
Presnenski - Wikipedia Gaan na inhoud

Presnenski

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Presnenski (amptelik Пре́сненский райо́н Présnenskij rajón; in die omgangstaal dikwels kortweg Пре́сня Présnja genoem, afgelei van die gelyknamige rivier wat deur die buurt vloei), is een van die administratiewe distrikte van Moskou met 'n bevolking van 123 284 volgens die sensus van 2010.

Moskou se ultramoderne sakebuurt Moskwa-Siti is in die distrik geleë
Die metrostasie Krasnopresnenskaja se naam herinner aan Presnenski se rewolusionêre verlede, net soos dié van Barrikadnaja - 'n verwysing na die barrikades wat deur stakende werkers opgerig is
Die Trjochgornaja-tekstielaanleg is gedurende die Sowjet-tydperk in 'n kombinat omgeskep. Tans huisves die fabriekskompleks onder meer winkels, kroeë en luukse solderwoonstelle
Die Patriargevywers (deur Moskowiete dikwels kortweg Patriks genoem) is een van Presnenski se welvarende kwartiere, genoem na 'n (ondanks die meervoudsvorm in die naam) enkele kunsmatige meer. Oorspronklik was daar meerdere mere wat as foreldamme vir die Moskouse patriarg aangelê en deur die Presnenskirivier gevoed is. Die buurt is onsterflik gemaak as die plek waar die openings- en ander tonele van Michail Boelgakof se meesterwerk van magiese realisme Мастер и Маргарита (Master i Margarita, «Die meester en Margarita») afspeel, 'n satiriese kykie op Moskou in die Stalintydperk waarin die duiwel 'n besoek aan die stad bring
Die Patriarg-woonstelgebou van 2003 word deur 'n "parafrase op Wladimir Tatlin se «Monument van die IIIde Internasionale» bekroon"[1] (ongelukkig nie sigbaar op die foto nie)
Die Withuis van Moskou, setel van die Russiese regering. Die gebou is reeds in 1935 deur Dmitri Tsjetsjoelin as «Lugvaartpaleis» ontwerp, maar eers gedurende die 1970's verwesenlik
Die gebouekompleks van die Verenigde State se Ambassade in die Russiese Federasie is een van die diplomatieke sendings wat in Presnenski gevestig is, bestaande uit 'n ouer gebou (oorspronklik opgerig as woonstelgebou en in 1953 vir die ambassade se behoeftes omgebou deur die Sowjet-regering, links op die foto), 'n nuwe kantoorgebou wat in 2013 begin is (nadat die Russiese geheime diens 'n vroeëre gebou blykbaar van heelwat meeluisterapparate voorsien het[2]), en Spaso-huis as ampswoning van die Amerikaanse ambassadeur
Die rewolusionêr en kommunistiese martelaar Nikolai Bauman (1873–1905) se laaste rusplek op die Wagankowo-begraafplaas in Presnenski

Presnenski is anderkant die Tuinring (Садовое колъцо) tussen die historiese stadsdeel Arbat en die nuwe wolkekrabberbuurt Moskwa-Siti (Moskwa-City) geleë. Met die bou van die Trjochgornaja-tekstielmanufaktuur in 1799 (die oudste in Moskou wat na drie heuwels in sy onmiddellike omgewing genoem is[3]) het Presnja, soos dit destyds genoem is, tot die Russiese hoofstad se nywerheidsbuurt begin groei. Gedurende die 19de eeu is steeds meer industriële aanlegte hier opgerig soos die Mamontof-kleurefabriek, die Danilof-suikerraffinadery en die Prochorof-manufaktuur.[4]

Danksy sy ligging in Sentraal-Moskou het Presnenski se karakter in die 20ste eeu ingrypend verander. Die oorspronklike nywerheids- en werkerskwartier is tans 'n gegoede woonbuurt met talle restaurante en 'n ryk kulturele en sosiale lewe. Die Moskouse planetarium en dieretuin is gewilde trekpleisters vir Moskowiete en toeriste. Ook enkele ambassades is in Presnenski geleë, waaronder dié van die Verenigde State; soms is statige historiese woongeboue van welvarendes omgebou om diplomatieke sendings te huisves.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

In die loop van die 20ste eeu is Presnenski twee keer deur bloedige gevegte geraak. Gedurende die eerste Russiese Rewolusie van 1905 het duisende fabrieksarbeiders in Desember in opstand teen die tsarebewind gekom en dae lank weerstand gebied teen regeringsmagte. Die rewolusionêre gebeure het hul aanvang in Januarie in Sint Petersburg geneem waar vreedsame betogers in 'n koeëlreën van tsaristiese magte geskiet is. Die onluste het oor die hele land uitgebrei; in Moskou het vrees en spanninge toegeneem nadat 'n jong rewolusionêr, Nikolai Bauman, tydens 'n betoging teen die tsaristiese bewind deur 'n regsgesinde doodgeslaan is. Tienduisendes het sy begrafnis bygewoon; swygende massas het agt ure lank deur Moskou gemarsjeer.

Die konstruktivistiese argitek Alexander Pasternak (1893–1982), broer van die bekende skrywer Boris Pasternak, sou die gebeure, waarvan hy as kind ooggetuie was, later beskryf[5]:

...die stilte, waarmee die massa voortbeweeg het, was onheilspellend; dit was so swaar dat 'n mens net luidkeels wou skreeu; totdat dit verbreek is deur stemme wat die «Requiescat» gesing het; of die afskeidshimne van daardie tyd, «Jy het as slagoffer gesneuwel in die stryd». Daarna is die stilte hervat.

In Desember 1905 het die Moskouse afdeling van die Bolsjewiste-party 'n algemene staking uitgeroep; dwarsoor die stad het arbeiders hul werk neergelê; die lidmaatgetalle van vakbonde het skerp gestyg. Die destydse eerste minister Sergei Witte het vir die ontplooiing van versterkings gepleit: "as Moskou in die hande van die rewolusionêres sou val, sou dit 'n swaar slag vir die regering van Sy Majesteit wees, met onberekenbare gevolge."

Regeringstroepende was vervolgens in hewige gevegte met arbeidersmagte gewikkel; Presnja is deur 'n sowjet (werkersraad) oorgeneem, terwyl stakende werkers barrikades opgerig het. Die hele buurt is deur regeringsmagte omsingel en met 'n swaar bombardement tot oorgawe gedwing; meer as duisend werkers het gesneuwel. In die nasleep van die onluste is honderde werkers, wat van deelname in die gewapende opstand verdag is, in hegtenis geneem. Sedert die Oktoberrewolusie, waartydens dit in November 1917 nog eens deur gewapende arbeidersmagte oorgeneem is, dra die buurt die bynaam Krasnaja Presnja (Rooi Presnja).

Ná die verbrokkeling van die Sowjetunie het die Withuis van Moskou (Bely dom), setel van die Russiese regering, twee keer die aandag van internasionale media getrek. Tydens die staatsgreeppoging teen Michail Gorbatsjof in Augustus 1991 het Boris Jeltsin sy befaamde toespraak op 'n tenk voor die gebou gelewer. Twee jaar later het teenstanders van Jeltsin 'n tweede poging onderneem om die Russiese regering omver te werp en hulle in die gebou verskans. Regeringstroepe het die staatsgreep bloedig neergeslaan nadat die opstandelinge verset gebied het. Die boonste verdiepings van die gebou is destyds deur 'n brand vernietig.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Irina Chipova, Katharina Feuer (red.): Moscow architecture & design. Kempen: teNeues 2007, bl. 32-33
  2. The New York Times, 15 November 1988: The Bugged Embassy Case: What Went Wrong. Besoek op 21 April 2020
  3. "MosKultInfo - Newsletter für Deutschsprechende in Moskau, 8 Januarie 2017: Trjochgornaja manufaktura – die Manufaktur auf den drei Hügeln. Besoek op 19 April 2020". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Mei 2020. Besoek op 19 April 2020.
  4. Eva Gerberding: DuMont Reise-Taschenbuch Moskau. Eerste uitgawe. Ostfildern: DuMont Reiseverlag 2020, bl. 140
  5. Caroline Brooke: Moscow. A Cultural and Literary History. Oxford: Signal Books 2006, bl. 63–64

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Toerisme