(Translated by https://www.hiragana.jp/)
William Sturgeon - Wikipedia Gaan na inhoud

William Sturgeon

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
William Sturgeon
mens
GeslagmanlikWysig
Land van burgerskapVerenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en IerlandWysig
Gegewe naamWilliamWysig
Familie naamSturgeonWysig
Geboortedatum22 Mei 1783Wysig
GeboorteplekWhittingtonWysig
Sterfdatum4 Desember 1850Wysig
SterfplekPrestwichWysig
Beroepuitvinder, fisikusWysig
Beïnvloed deurCharles Grafton PageWysig

William Sturgeon (Whittington, 22 Mei 1783 – Prestwich, 4 Desember 1850) was 'n Engelse natuurkundige en uitvinder. In 1825 vervaardig hy die eerste prakties bruikbare elektromagneet en in 1832[1] 'n gelykstroommotor.

Sturgeon is gebore as die seun van 'n skoenmaker John Sturgeon en Betsy Adcock. Na die dood van sy moeder gaan leer hy op tienjarige leeftyd verder by 'n ander skoenmaker. In 1802 sluit hy by die leër aan en leer homself wiskunde en natuurkunde. In 1824 word hy dosent by die Oos-Indiese Kompanjie Kollege in Addiscombe, Surrey en in die daaropvolgende jaar demonstreer hy die eerste elektromagneet. Om sy studente te laat kennis maak met die natuurwette, bou hy sy eie wetenskaplike demonstrasiemodelle. In 1828 vertoon hy Ampère se idee van 'n solenoïde in die praktyk.

In 1832 begin Sturgeon vir die nuutgestigte Adelaide Gallery of Practical Science in Londen werk, waar praktiese wetenskap op 'n lighartige wyse onderrig en gedemonstreer is.[2] Hier het hy die eerste elektriese motor gedemonstreer wat met 'n kommutator toegerus was. In 1836 het hy die tydskrif Annals of Electricity gestig,[3] en in dieselfde jaar het hy die galvanometer uitgevind.

In 1840 word hy direkteur van die Royal Victoria Gallery of Practical Science in Manchester.[4] Dié instelling sluit in 1842 hul deure, en hy moes daarna homself onderhou deur die gee van lesings en demonstrasies. In 1850 sterf William Sturgeon in armoede.[1]

Elektromagneet

[wysig | wysig bron]

Ná die ontdekking van elektromagnetisme in 1820 het Sturgeon maniere begin soek om Ørsted se eksperimente na te boots. Met die hulp van die instrumentmaker Francis Watkins het hy in 1825 'n toetsopstelling gebou. Hy het 'n hoefystervormige ysterstaaf met sestien windings koperdraad toegedraai en dit aan 'n Volta-kolom verbind. Deur 'n elektriese stroom deur die drade te lei, het hy waargeneem hoe die stuk yster gemagnetiseer word; elektrisiteit het 'n magnetiese veld opgebou wat in die ysterkern gekonsentreer was.

Hy het opgemerk dat die draadwikkelings mekaar versterk omdat die stroom in die parallelle drade altyd in dieselfde rigting loop. Wanneer dit gemagnetiseer is, kon sy elektromagneet ongeveer vier kilogram optel, of twintig keer sy eie massa. Toe die krag afgeskakel word, het die yster gedemagnetiseer en dadelik sy vrag laat val.

Sy uitvinding is dieselfde jaar in Londen uitgestal, en Sturgeon self is in 1825 met 'n silwermedalje van die Royal Society of Arts bekroon. Sy elektromagneet sou 'n belangrike bron van elektriese krag word en bydra tot die ontwikkeling van die elektriese telegrafie en die elektriese motor.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 Gee 2004.
  2. Harrison, W. J. (2004). "Gassiot, John Peter (1797–1877)". Oxford Dictionary of National Biography (online). Oxford University Press. DOI:10.1093/ref:odnb/10439.  (Subscription or UK public library membership required.)
  3. The Annals of Philosophical Discovery and Monthly Reporter of the Progress of Practical Science, Volume 1, (1843). https://archive.org/details/annalsofphilosop1843stur
  4. Kargon 1977, pp. 38–40.