(Translated by https://www.hiragana.jp/)
1-2 Konings - Wikipedia Gaan na inhoud

1-2 Konings

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Die Boek van Konings ( Hebreeus : סֵפֶר מְלָכִים, Sēfer Məlāḵīm) is 'n boek in die Hebreeuse Bybel, wat as twee boeke (1–2 Konings) in die Ou Testament van die Christelike Bybel gevind word. Dit sluit die Deuteronomistiese geskiedenis af, 'n geskiedenis van antieke Israel wat ook die boeke Josua, Rigters en Samuel insluit.[1]

Bybelse kommentators glo dat die Boek van Konings legendes, volksverhale, wonderverhale en "fiktiewe konstruksies" met die annale meng met die doel om 'n teologiese verduideliking te verskaf vir die vernietiging van die Koninkryk van Juda deur Babilon in c. 586 vC en om 'n grondslag te verskaf vir 'n terugkeer uit Babiloniese ballingskap.

Die twee boeke Konings bied 'n geskiedenis van antieke Israel en Juda, vanaf die dood van koning Dawid tot die vrylating van Jojagin uit die gevangenisskap in Babilon – 'n tydperk van sowat 400 jaar (c. 960 – c. 560 vC). Geleerdes is geneig om die boeke te behandel as bestaande uit 'n eerste uitgawe uit die laat 7de eeu v.C. en uit 'n tweede en finale uitgawe van die middel 6de eeu vC.[2][3]

Die boeke is die 11de en 12de boeke in die kanon van Hebreeuse Geskrifte wat as die Ou Testament in die Bybel opgeneem is.

1 Konings

[wysig | wysig bron]

Die boek sit die geskiedenis van die Samuelboeke voort. Net voor Dawid se dood laat hy sy seun Salamo tot koning salf. Na Dawid se dood reken Salamo af met sy teëstanders en regeer in voorspoed en met wysheid oor die twaalf stamme. Die bou en inwyding van die tempel vorm die hoogtepunt van sy bewind. Na sy dood skeur die ryk in twee dele: Juda - Jerusalem in die suide met nasate van Dawid as hulle konings en Israel in die noorde onder verskillende konings. Die geskiedenis van die twee ryke word afwisselend vertel, eers dié van 'n bepaalde koning (byvoorbeeld Jerobeam van Israel) en dan dié van al die konings van die ander ryk wat gelyktydig met hom geregeer het (byvoorbeeld Rehabeam, Abia en Asa van Juda). Elke koning se optrede word vertel en beoordeel in die lig van wat die Here sy volk in verband met afgodediens beveel het, en die geskiedenis van die tydperk vind sy hoogtepunt in die botsing van die profeet Elia met Agab, botsings wat vertolk kan word as 'n stryd om te bevestig dat die Here God is.

2 Konings

[wysig | wysig bron]

Die eerste sewentien hoofstukke handel oor die geskiedenis van die twee ryke. 'n Groot gedeelte hiervan word in beslag geneem deur die optrede van die profete Elia en Elisa. Die sterk stempel wat Elisa op die tydperk se gebeure afgedruk het, blyk daaruit dat twee persone wie se koningskap deur hom aangekondig is, se nasate nog lank na sy dood 'n leidende rol in die geskiedenis gespeel het.

Na die ondergang van die staat Israel word die geskiedenis van Juda beskryf tot met die val van Jerusalem in 586 v.C. Die hoogtepunte in die tyd was die hervormings deur Hiskia en Josia. Desondanks het die volk sy land verloor omdat hy nie na die Here geluister het nie. Die slotopmerking oor die vrylating van koning Jojagin is die ligpunt waarmee hierdie donker tydperk afsluit.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Sweeney, p. 1
  2. Fretheim, p. 7
  3. Grabbe, Lester L. (1 Desember 2016). 1 & 2 Kings: An Introduction and Study Guide: History and Story in Ancient Israel (in Engels) (1 uitg.). T&T Clark. ASIN B01MTO6I34.